Thursday, 28 August 2014

Lysefjord


As jy baie gelukkig is het jy 'n huis langs die fjord.  Jy sou dit moes geërf het, want vandag is so 'n eiendom onbetaalbaar duur.

Dis nou 'n fjord

Een van ons hoof doelstellings, behalwe nou die kongres, was om in Noorweë die fjords te gaan bewonder. Ons is met die Hurtigruten van Trondheim af na Bergen al met die fjords langs, maar die fjord soos vaagweg uit definisies onthou het ons bly ontwyk.  Ons het gesoek vir steil afgronde en intimiderende berghange met sneeu en ys wat oor alles lê.  Ons het nie verwag dat dit soos in 'n groot dam is omring met heuwels en berge nie.  

Die fjord wat uiteindelik 'n hoogtepunt was is die Lysefjord.  Hierdie 42 km lange fjord waar die see die gleuwe van ou gletser opgevul het is lank en smal en die berghange om die water so onherbergsaam dat mens net met 'n boot by jou blyplek kan uitkom. 

Ons is daarlangs met 'n bootuitstappie vanaf Stavanger.  Rebecca Solevåg, van die MHS, het ons saam genooi - wat 'n ongelooflike voorreg.


So het die boot gelê en wag.

Die fjord lê oop voor ons.

Reg langs die loodregte kranse.
Hier is Rebecca in die middel met Julia Watts Belser op die rolstoel langs haar.

 Op die dek.
Ons vaar verby pragtige rotsformasies.
Teen 'n hang is daar 'n paar bergbokke.

Is dit 'n rob of 'n otter?  

Hierdie bergwater is suiwer.  Ons het almal 'n bietjie daarvan te drinke gekry.

Die "Preikestolen". Dit is 604m die lug in op en die fjord is blykbaar hier net so diep ook.  'n Aanbevole uitstappie is om met die berg op te loop tot by die Preikestolen.  Jy hoef net oor 'n klein skeur te stap om daar uit te kom.  Ek kan nie dink hoekom ons toe maar besluit het om nie oor die afgrond te gaan tree nie.

Nog 'n krans.  "Base jumping" word oral hier toegelaat.





Wednesday, 27 August 2014

Die Noorweegse Oliemuseum

Die Oliemuseum in Noorweë

Iets wat ons ongewoon baie plesier verskaf het, was die oliemuseum in Stavanger.  Die Noorweërs waarmee ons gesels het vermy die plek en wil liewer fokus op 'n groen lewensstyl.  Feit is 200 000 mense werk in die oliebedryf en die hele land beleef duidelik 'n bloeitydperk wat 'n mens eintlik nie anders kan as om met die ontgunning van olie uit die Noordsee sedert die 1970's te verbind nie.

'n Mens kan ook nie anders as om die manier hoe die fonds bestuur word te bewonder nie.  Die regering het die maatskappy Statoil begin, waarvan Noorweërs die aandeelhouers is, maar die inkomste uit die olie word belê en slegs die opbrengs op die beleggings word gebruik.  Die infrastruktuur wat betref paaie, brûe, tonnels, vervoer, hospitale en skole is opmerklik goed.  Groot dele van die onherbergsame, pragtige land is nou baie meer bereikbaar.  

Die oliefonds word beskou as iets wat bestuur moet word vir die komende geslagte.  Die fonds is reeds meer as 2000 biljoen NOK (Noorweegse krone) sterk, of so ongeveer 500 000 krone vir elke burger. In die museum is dit duidelik dat daar steeds 'n  openbare debat is of elke burger nie maar net hulle geld kan kry nie.

Nou weet julle wat my die meeste beïndruk het, Pieter het weer die tegnologie agter olieplatforms en oliebore baie geniet.  

Die museum se argitektuur is besonders, dit lyk soos 'n klein olieplatform



Hierdie is een van die inligtingsborde in die museum

Hierdie is 'n getroue model van 'n olieplatform, uit die dae voordat mens alles op 'n rekenaar kon beplan.  Die Noorweërs het sonder moeite van bootbou na die bou van olieplatforms uitgebrei.


'n Mens kan in 'n klein duikvaartuig klim om te sien waarmee die oliewerkers diep genoeg kom om die toerusting te gaan nasien.

Deel van die museum is 'n klein olieplatform. Hier is die boonste deel van die olieboor.


Hierdie is 'n beheerkamer van vanmelee vir 'n olieplatform.






Hier was Pieter, soos hy self gesê het, sommer baie gelukkig.








/'n Beheerstoel vandag.



Pieter Botha op die klein olieplatform.







Tuesday, 19 August 2014

Stavanger, die hawe

Stavanger by die see

Ons was so gelukkig om in die ou stad by die hawe waar al die passassierskepe aandoen te kon bly. 
Dit is soos die hawe lyk as dit minder besig is.




Net 'n blok hoër, by die Best Western hotel, is waar ons gebly het.


Die vuurtoring, net bokant ons hotel.






 

















































Die lewe in Stavanger, soos meestal in die hele Noorweë, het nog altyd om die see gedraai.  Die gemeenskap daar is nou die grootste wat dit nog ooit was.  Dit was lank 'n vissersgemeenskap wat 'n groot oplewing belewe het toe die sardientjies en die "brisling" in groot getalle lanks die kus opgemerk en gevang is.  Daar is 'n fabriek opgerig om die vis in te maak en 'n lekker blikkie sardientjies is geadverteer as net die regte ding om mee te onthaal of vir aandete.  
 Hierdie is 'n foto uit die inmaakfabriek se museum.

Toe die vis nie meer so volop is nie, het hulle in Stavanger begin bote en skepe bou - ook iets waarvoor Noorweë bekend is.  Dit het egter nie vir so baie mense werk verskaf nie.  Stavanger het eers regtig begin groei nadat olie in die Noordsee ontdek is. Daaroor meer op 'n ander dag.

Die hawe waarlangs ons gebly het is die toeriste hawe waar die ferries en die groot passasierskepe aandoen.  Ek en Pieter het ons verkyk toe so 'n groot passassierskip daar kom vasmeer het.  Dit is soos 'n hele stadsblok wat skielik tussen alles in beweeg.  Mens kan nie glo hoe dit in posisie kan kom nie.


In vergelyking met hierdie reus is die Hurtigruten, wat soos 'n hotel op die see is, werklik maar klein.

In dieselfde hawe het ons ons verstom aan hoe vaardig die kleiner bote om hierdie groot skepe kan beweeg.


Hier in Stavanger moes daar ook gewerk word.  Hier is Pieter sommer op sy rekenaar en foon gelyk.


So het dit in die lesinglokaal gelyk.  Voor staan die dame wat die kongres help reël en Pieter genooi het, Rebecca Solevag.


Sy was ook so gaaf om ons na haar huis, 'n entjie weg van Stavangersentraal af, te nooi.  Ons moes met die trein ry.

Hierdie is 'n "selfie"van ons twee so verskoon maar die vreemde uitdrukkings.







Monday, 11 August 2014

Stavanger - stad van beelde

Beeldhouwerk in Stavanger

In Oslo sowel as in Stavanger het die beeldhouwerke ons opgeval.  Nou kyk Oslo se beelde sou ons in Suid-Afrika lank met die vyeblare besig gehou het.  Met die jare kom meer verdraagsaamheid en waardering vir die skoonheid en ekspressiwiteit van naakte lywe, maar vir daardie album op my blog sien ek nog nie kans nie.  

In Stavanger is daar 'n beeld wat 'n mens sommer by 'n hele paar plekke raaksien - replikas - ons het besluit dis deel van 'n bemarkingsveldtog.

Hierdie een staan in die Stavangermuseum.

Daar is amper oral beelde, voor die winkels, in die parke, by die katedraal en tussen die huise.  Dit is veral mooi om te sien hoe die mense, veral die kinders, met hierdie beelde omgaan.  Hulle vryf die neuse van die skape en gaan sit op hulle.  Hierdie skape is in die middel van die ou dorp tussen die winkels.














Die seuntjie op 'n perd is ook voor winkels.













In die sentrale park om die katedraal en by die dam staan die volgende beelde.




Natuurlik maak die natuur tussenin sommer sy eie beelde in interaksie met die mooi ou houthuisies.


In 'n parkie tussen die huisies staan 'n hele paar beelde met 'n bord wat Lars H. Lende as die 
kunstenaar aandui.  


Kyk hoe spelerig is hierdie beeld.

Daar is ook pragtige houtsneewerk, naamlik die van Andrew Smith (ek sal dit nie maklik vergeet nie, want dit is ook een van my nefies se naam).  Voorbeelde hiervan is in die katedraal en in die museum te sien.  
Die preekstoel in die katedraal.


Die heel mooste beeld is die een by die hawe waarnaby ons gebly het. Ons het seker twintig foto's daarvan geneem en ek is nie seker hierdie is die mooiste een nie.

'n Skip in vlug.


Friday, 1 August 2014

'n Busroete soos geen ander

Bergen na Stavanger

'n Ongelooflike "busrit"


Die kongres wat Pieter moes gaan bywoon was in Stavanger, so ons moes nog van Bergen af daarheen gaan.  As deel van die inligting oor die Bergen omgewing word die busrit na Stavanger aanlyn aanbeveel as so goed soos om "Norway in a Nutshell" in die kleine te doen.  Ons was vroegoggend reeds by die trein- en busterminale (mooi bymekaar) en het toe gaan wag vir die bus om op te daag.

Die busterminaal lyk maar soos wel 'n busterminaal.  Ons het gaan wag waar daar reeds bagasie teen die pilare opgestapel was.


Soos ons ook in Engeland ervaar het is busbestuurders baie professioneel en behulpsaam. Kommunikasie is nou wel nie vlot nie, maar mens se bagasie word flink opgelaai.  Hierdie busbestuurder het ons besorg verseker dat hy ons sal wys hoe om te maak, want ons moes nog twee keer met ferries vaar om by Stavanger uit te kom.

Ons was bekommerd dat ons dalk ekstra kaartjies sou nodig hê en dit was reeds nogal duur, maar nee dis reeds ingesluit.  'n Mens kom gou agter hoekom jy soveel betaal.  Wifi is gratis beskikbaar. Die landskap om ons terwyl ons busry is pragtig en sluit weereens brûe en tonnels in.  Dit is werklik nie eenvoudig om hier te reis nie.   
 
Die mense op die bus pendel van een stad na die ander en daar word doelgerig beweeg so foto's neem is moeilik.  Nogtans is hierdie 'n rit van 5 ure.  Na 'n uur of wat is ons by die eerste ferrie.  Ons verwag om af te klim en met 'n ander bus verder te ry, maar tot ons verstomming ry die hele bus op die ferrie op en ons klim eers op die ferrie self af.  Vir my was 'n ferrie nog altyd 'n groot plat flot, maar hierdie is skepe wat busse en vragmotors en motors van alle soorte op twee dekke insluk.




Hier is ek op die ferrie.  Mense bestorm almal op die kafee want die eerste rit is vir 40 minute voor die bus weer van die ferrie afry en dan nuttig die meeste  'n warm maaltyd.  Noorweë is duur vir buitelanders, so ek en Pieter is tevrede met tee, o ja en 'n roomys.


Na die ferrie ons uitgespoeg het ry ons verder padlangs tot ons weer met 'n ferrie moet verder gaan.

Die see maak hier die strate.  Mense wat in Stavanger  bly vertel dat hulle vroeër jare per boot, as enigste opsie, heen en weer moes reis om vir die familie in Bergen te gaan kuier.  Daar is steeds mense wat glad nie 'n motor besit nie, maar almal het 'n vasmeerplek iewers.


Wat 'n wonderskone land.