Friday 1 August 2014

'n Busroete soos geen ander

Bergen na Stavanger

'n Ongelooflike "busrit"


Die kongres wat Pieter moes gaan bywoon was in Stavanger, so ons moes nog van Bergen af daarheen gaan.  As deel van die inligting oor die Bergen omgewing word die busrit na Stavanger aanlyn aanbeveel as so goed soos om "Norway in a Nutshell" in die kleine te doen.  Ons was vroegoggend reeds by die trein- en busterminale (mooi bymekaar) en het toe gaan wag vir die bus om op te daag.

Die busterminaal lyk maar soos wel 'n busterminaal.  Ons het gaan wag waar daar reeds bagasie teen die pilare opgestapel was.


Soos ons ook in Engeland ervaar het is busbestuurders baie professioneel en behulpsaam. Kommunikasie is nou wel nie vlot nie, maar mens se bagasie word flink opgelaai.  Hierdie busbestuurder het ons besorg verseker dat hy ons sal wys hoe om te maak, want ons moes nog twee keer met ferries vaar om by Stavanger uit te kom.

Ons was bekommerd dat ons dalk ekstra kaartjies sou nodig hê en dit was reeds nogal duur, maar nee dis reeds ingesluit.  'n Mens kom gou agter hoekom jy soveel betaal.  Wifi is gratis beskikbaar. Die landskap om ons terwyl ons busry is pragtig en sluit weereens brûe en tonnels in.  Dit is werklik nie eenvoudig om hier te reis nie.   
 
Die mense op die bus pendel van een stad na die ander en daar word doelgerig beweeg so foto's neem is moeilik.  Nogtans is hierdie 'n rit van 5 ure.  Na 'n uur of wat is ons by die eerste ferrie.  Ons verwag om af te klim en met 'n ander bus verder te ry, maar tot ons verstomming ry die hele bus op die ferrie op en ons klim eers op die ferrie self af.  Vir my was 'n ferrie nog altyd 'n groot plat flot, maar hierdie is skepe wat busse en vragmotors en motors van alle soorte op twee dekke insluk.




Hier is ek op die ferrie.  Mense bestorm almal op die kafee want die eerste rit is vir 40 minute voor die bus weer van die ferrie afry en dan nuttig die meeste  'n warm maaltyd.  Noorweë is duur vir buitelanders, so ek en Pieter is tevrede met tee, o ja en 'n roomys.


Na die ferrie ons uitgespoeg het ry ons verder padlangs tot ons weer met 'n ferrie moet verder gaan.

Die see maak hier die strate.  Mense wat in Stavanger  bly vertel dat hulle vroeër jare per boot, as enigste opsie, heen en weer moes reis om vir die familie in Bergen te gaan kuier.  Daar is steeds mense wat glad nie 'n motor besit nie, maar almal het 'n vasmeerplek iewers.


Wat 'n wonderskone land.

No comments:

Post a Comment