Tuesday 31 December 2013

Hoekom ons Baltimore toe is.

Baltimore - kongres

Ons is Baltimore toe omdat Pieter aan die jaarlikse SBL kongres gaan deelneem het.  As jy n Amerikaner is en jy wil in die veld van Godsdienswetenskap werk, dan moet jy eenvoudig jou gesig by hierdie kongres wys.  Hier is waar jy ander akademici wat in jou veld werk leer ken en jy uitgewers kan nader of hulle vir jou, as jy so gelukkig is.


Dit het dus oor Pieter se werk gegaan.  Hierdie kongres duur net vier dae, maar die program lyk soos 'n Pretoria telefoonboek.  Dis ook onmoontlik om alle sessies by te woon.  Jy moet kies.

Om amper soos deel van die groep te voel (Pieter was so gaaf om my ook in te skryf as kongresganger), moet jy kan se watter sessies jy gaan bywoon.  






Die kongres gebruik n hele sentrum (n gebou wat n hele stadsblok groot is) asook lokale in drie hotelle.  Ek twyfel of ons een so 'n sentrum in Suid-Afrika het.   Die Amerikaners praat van 'n "Convention Center".

'n Mens gaan deur hierdie deure in.  Binne is die hele vier verdieping gebou lugversorg en die vloer is orals met mat bedek.  Daar is 'n groot ontvangs toonbank en nog n kantoor waar jy jou "tote" sak kan gaan afhaal.  

Op een van die vloere word 'n groot saal aan boeke toegewei - al die nuutste publikasies.  Dis ook hier wat jy met uitgewers kan gesels.  


Verder is daar n uitstalling van modelskepe, soos onder andere 'n Romeinse galei wat in Ben Hur gebruik is. Teen die mure is interessante "posters", soos hierdie een wat n redelik tipiese Amerikaanse ontbyt voorstel. 

Daar is ook 'n hele aantal stalletjies wat kos verkoop, onder andere Starbucks (baie gewild).  Die rye mense wat hier staan en wag om gehelp te word is iets om te aanskou.   

Ek het Pieter se lesing gaan bywoon en ook +Chris de Wet s'n. 'n Lesing wat ek baie geniet het was die van Janet Stephens.  Sy het gepraat oor die Argeologie van Romeinse vroue se hare.  Sy het op n stadium self 'n lesing bygewoon waar daar beweer is net die ryk vrouens kon die komplekse haarstyle van die Romeinse era bekostig.  Self n haarkapster, het sy besluit om te kyk of dit lank sou vat of duur sou wees om jou so op te tooi.  Vir haar neem dit glad nie lank nie.  Interessant is dat die hare vasgewerk is met naald en gare. 

Soos julle kan sien sit daar toe voor my n groot Amerikaner - die lokaal was stampvol.  In die hoekie sit Alicia Batten, n Kanadese professor.



Nou ja, so lyk die eindproduk van voor.


En van agter.

'n Mens vergeet die professore het eintlik baie te se oor die werklike lewe. 


Monday 30 December 2013

Die akwarium in Baltimore

Kyk ons het nie hierdie keer swaar gekry in Amerika nie, Mc Donalds was ons slegste maaltyd en dit was nie sleg nie.  Ons het heerlik geeet.  Die lekkerste lekker in Baltimore was egter ons besoek aan die akwarium.

Die hele onderste vloer is - tot ons aanvanklike frustrasie - net restaurant en fotoneem en bereplek.  So kom dit dat ons eers na besprekings van spesifieke diere gaan luister.  Ons sien n ongelooflike blou papegaai en 'n insek.  Kyk self.


Die assistent met die kokkerot vra toe of ons al die jellievisuitstalling gesien het.  Die jellievisse neem ons oseane oor, want al hulle natuurlike vyande soos skilpaaie,walvisse en tuna word uitgewis. Verder floreer hulle op klein vissies en viseiers.  Dit nou gese, ons was verstom, die goed is mooi.


Hulle is ook baie.

















Van daar af het ons na die dolfynvertoning gesien, nog onbewus van wat eintlik vir ons wag.  Daar is groot binnemuurse dolfynpoele en 'n hele klomp mense wat hulle dophou en afrig.  Om hulle af te neem is erg moeilik, want hulle staan nie eintlik stil nie.

Hierdie een kon nie Pieter se vinnige kamera ontduik nie.












As hulle vir die skare moet handeklap kan ek hulle ook afneem.  Die poele se kante is van deursigtige materiaal, so ons kon hulle ook onderwater bewonder en afneem.

Hierdie was weereens baie mooi: die dolfyne is gesond en lyk lewenslustig en reg om hulle toertjies te vertoon.  Hulle teel ook heel goed aan so in gevangeskap.


Na die dolfyne kom ons by die kunsmatig geboude koraalrif uit.  Dit strek oor drie verdiepings.  Mens loop aan die binnekant van n yslike tenk wat mens van n venstermuur af kan bekyk.  Die effek is die van baie akwariums waarby jy stadig kan verby stap of sommer net kan gaan en staar. Hierdie koraalrif en die seelewe daarop is ongelooflik mooi.  Daar is visse van geel en swart en blou en grys.  Die koraal is vol van allerhande kleure.  Ons het al n paar keer vissies in tenks aangehou, met wisselende welslae.  Hierdie tenk is 'n wonderwerk.  Vissies agter glas laat hulle egter nie heeltemal so maklik afneem nie.  Gelukkig is Pieter n veel beter fotograaf as ek - dis net sy kamera besluit toe ook halfpad deur die huidige geheueskyfie gaan nie verder werk nie.


Hier is darem n proeseltjie van die mooi wat ons beleef het.



Hierdie vis is een van 'n paar wat sommer baie verby geswem het.










Die akwarium bevat ook 'n tropiese woud met goue apies en n stukkie van AustraliĆ« met voorbeelde van die vislewe daar.  Die binnelandse visse is egter vaal in vergelyking met die seevisse.

Ons wou nog baie sien, maar daar was nie nog dae nie.

Baltimore Inner Harbor

BALTIMORE INNER HARBOR

Dis nou waarnatoe toergroepe en families kom so op 'n vakansie- of naweekuitstappie.
Die een kant van die hawe

Van hier af stap n mens by Ripley's Believe it on Not verby waar n groot klipbal op n bietjie water balanseer en n mens die wereld se langste man (2,75 meter) in afbeelding kan bewonder.



As mens nou net daar bly staan en dis vroeg in die oggend, so 10vm, kan jy vir "Santa"sien verby loop na "Santa's Little Hut" waar jy op Vader Kersfees se skoot kan gaan poseer vir n foto en as jy darem nou nie te stout was nie kan jy dalk net die Kersgeskenk van jou drome kry.



Soos enige een kan sien, teen einde November is die wereld (ag aarde, hoe sit n mens 'n kappie op), hier nat en koud.   Aan die agterkant van Santa se hut is een van die klein winkelsentrums op die hawe sigbaar.  As jy daarheen stap is daar nog een sentrum voor waar jy dalk vinnig kan ingaan om net n bietjie te ontvries.  Cheesecake Factory is 'n baie oulike koffiewinkel vir net hierdie doel.  Onthou net alles in Amerika is vir n Suid-Afrikaner maar peperduur.  Kos in Suid-Afrika is wonderlik goedkoop in vergelyking met Amerikaanse pryse.

Stap verder aan en daar staan n kleiner replika van die World Trade Centre wat aan 9/11 herinner.  Daar word n groot gebuigde stukkende metaalstut uit die oorspronklike gebou uitgestal.  As jy nou boontoe gaan kan jy die museum gaan besigtig en ver uitkyk oor Baltimore.


Daar is nie minder as vyf museumskepe in die Inner Harbor waarop jy kan gaan rondstap.  Daar is n outydse seilboot en n duikboot en alles tussenin.  Dis tog jammer dat 'n mens nie met die kamera dieselfde beeld kan kry as wat jou oog sien nie.  Met die oog verdwyn al die baie geboue in die agtergrond en net die takelwerk en boeg bly oor.



Stap jy verby die hoe monument kom jou op n area af waar busse kan parkeer en waar toergroep en skoolkinders uitpeul. Hier is daar tuineilandjies tussen die plaveisel van waaruit Tschaikovsky gehoor kan word.  Gaan jy nader sien jy dis eintlik n poging om mense te motiveer om die moerasland te bewaar.  Voor die 9/11 gebou is daar ook drywende graseilande wat afgesper is van die res van die hawe.  Die eilandjies is van ou plastiek aanmekaar gesit en daar is gras opgeplant -  ook n poging om die hawe te laat herlewe.




Nou le die akwarium en die kunsmuseum voor.  Baie groepe is oppad na die akwarium daar naby die Chesapeake museumskip en die duikboot.


Skuins agter is n ou kragstasie wat omskep is in n reuse boekwinkel.  Ek en my man, Pieter, kan ure in so 'n boekwinkel deurbring.  Ek sou beslis kon oorwinter in so n Barnes en Noble.  Net langs die boekwinkel is die Hard Rock kafee (dis nou waarom die groot kitaar bo-op is), maar ons was net n paar dae daar en kon ongelukkig nie alles verken nie.  Ons het ons gehaas na die akwarium.


Wednesday 18 December 2013

Baltimore, 22 - 27 Nov

POORT NA AMERIKA

Baltimore

My kort inleiding tot Amerika het die bestuurder van die Super Shuttle vir my verskaf oppad van Washington Dulles lughawe na die hotel in Baltimore.  Hy (ons noem hom nou maar Sam) kom ook oorspronklik van Afrika en weet van Kaapstad.  Hy het familie in Suid-Afrika.  (Dit is nou deel van die onverwagte vir hierdie besoeker uit Afrika - die bestuurder was self nie van slawe afkoms nie, maar baie mense hier is onmiskenbaar van Afrika afkomstig.  Dit laat mens nogal tuis voel.)  Sy Engels val maar n bietjie swaar op die oor en dit help nie dat ek sopas 'n sewentienuur lange vlug agter die blad het nie.  Sam verduidelik dat ons nou na 'n ander staat toe ry al is die rit maar n uur lank:  Baltimore is in Maryland, Washington is in Columbia.  Dis nou Washington DC, want behalwe vir state is alles in distrikte verdeel.  Die bestuurder self  bly in Baltimore en gee daarom nie te veel om om n enkele passassier al die pad te neem nie.

So lyk Baltimore (Inner Harbor) vanuit die hotel.

Daar is n sewe ure verskil tussen Suid-Afrika en Baltimore, so slaaptyd is heelwat later as gewoonlik.  Pieter neem my uit vir ete in die Baltimore Inner Harbor area by 'n Ierse restaurant.


Tenspyte van vlugvoosheid heel aangenaam.



Die binnekant

Ons loop ook op die hawefront rond wat ek in die volgende dae op my eie en weer saam met Pieter verken.  Dit is duidelik mooi gemaak vir families en toeriste om besoek te kan kom afle, maar daarvan vertel ek eers weer later.