Tuesday 31 December 2013

Hoekom ons Baltimore toe is.

Baltimore - kongres

Ons is Baltimore toe omdat Pieter aan die jaarlikse SBL kongres gaan deelneem het.  As jy n Amerikaner is en jy wil in die veld van Godsdienswetenskap werk, dan moet jy eenvoudig jou gesig by hierdie kongres wys.  Hier is waar jy ander akademici wat in jou veld werk leer ken en jy uitgewers kan nader of hulle vir jou, as jy so gelukkig is.


Dit het dus oor Pieter se werk gegaan.  Hierdie kongres duur net vier dae, maar die program lyk soos 'n Pretoria telefoonboek.  Dis ook onmoontlik om alle sessies by te woon.  Jy moet kies.

Om amper soos deel van die groep te voel (Pieter was so gaaf om my ook in te skryf as kongresganger), moet jy kan se watter sessies jy gaan bywoon.  






Die kongres gebruik n hele sentrum (n gebou wat n hele stadsblok groot is) asook lokale in drie hotelle.  Ek twyfel of ons een so 'n sentrum in Suid-Afrika het.   Die Amerikaners praat van 'n "Convention Center".

'n Mens gaan deur hierdie deure in.  Binne is die hele vier verdieping gebou lugversorg en die vloer is orals met mat bedek.  Daar is 'n groot ontvangs toonbank en nog n kantoor waar jy jou "tote" sak kan gaan afhaal.  

Op een van die vloere word 'n groot saal aan boeke toegewei - al die nuutste publikasies.  Dis ook hier wat jy met uitgewers kan gesels.  


Verder is daar n uitstalling van modelskepe, soos onder andere 'n Romeinse galei wat in Ben Hur gebruik is. Teen die mure is interessante "posters", soos hierdie een wat n redelik tipiese Amerikaanse ontbyt voorstel. 

Daar is ook 'n hele aantal stalletjies wat kos verkoop, onder andere Starbucks (baie gewild).  Die rye mense wat hier staan en wag om gehelp te word is iets om te aanskou.   

Ek het Pieter se lesing gaan bywoon en ook +Chris de Wet s'n. 'n Lesing wat ek baie geniet het was die van Janet Stephens.  Sy het gepraat oor die Argeologie van Romeinse vroue se hare.  Sy het op n stadium self 'n lesing bygewoon waar daar beweer is net die ryk vrouens kon die komplekse haarstyle van die Romeinse era bekostig.  Self n haarkapster, het sy besluit om te kyk of dit lank sou vat of duur sou wees om jou so op te tooi.  Vir haar neem dit glad nie lank nie.  Interessant is dat die hare vasgewerk is met naald en gare. 

Soos julle kan sien sit daar toe voor my n groot Amerikaner - die lokaal was stampvol.  In die hoekie sit Alicia Batten, n Kanadese professor.



Nou ja, so lyk die eindproduk van voor.


En van agter.

'n Mens vergeet die professore het eintlik baie te se oor die werklike lewe. 


No comments:

Post a Comment