Thursday 31 July 2014

Die Hurtigruten, 6 Mei 2014

Van Trondheim terug na Bergen

Die Hurtigruten


Ons het geweet dat ons met die skip al langs die Weskus van Noorweë na Bergen toe sou terugkeer.  Nie ek of Pieter het nou al eintlik met 'n skip op die see gevaar vir enige tyd meer as 'n uur of twee nie, ook nooit 'n skip van enige noemenswaardige grote nie.  Ons was baie opgewonde. Die Hurtigruten het belowe om 'n hoogtepunt te wees, maar eers moes ons by die skip uitkom.

Soos die skip oor die see wegvaar, so moes ons ook uit Trondheim vertrek.


Ons besluit dus die aand voor die tyd dat ons moet gaan kyk vanwaar ons sou vertrek.  Trondheim in Mei is nou nie eintlik warm nie en daardie laatmiddag is dit bitter koud.  Die wind waai snerpend om ons oor die brug en om die Clarionhotel, maar ons kom darem by bordjies uit wat aandui hoe om by die skip se vasmeerplek uit te kom.  Uiteraard is die skip toe nog nie daar nie.  Dit is 'n werkende skip, in Engels bekend as die Coastal Express.  Mense klim op en af by die verskillende dorpe langs die kus.

















Die volgende oggend is dit ook koud, maar tasse en al neem dit nie lank nie of ons is by die skip.  Die Hurtigruten staan toe wraggies vir ons en wag - 'n groot, staal skip.


Die oomblik was groot, te groot om net eers 'n bietjie weg te staan en meer van 'n geheel prentjie te kon vaslê.  Ons strompel uit die grou uit na binne.  Die binneruim slaan ons asems weg.  Dis 'n luukse hotel!















Ons het verwag om deur patryspoorte na buite te kyk.  Kyk net die groot vensters!  Ons is met die grootste hartlikheid ontvang.  Die ontvangsdame ('n luitenant) bied ons 'n opgradering van blyplek aan en nog benoud oor wat ons moontlik mag aantref aanvaar Pieter dit dadelik.  Ons kry die wonderlikste suite vir die dag en ook sommer 'n komplimentêre bak vrugte met sjampanje (die het ons uitgesmokkel vir 'n volgende dag).  Dit was glo 'n geskenk van die kaptein af en tot vandag toe dink ek ons moes hom persoonlik bedank het.





Kyk die bad was 'n groot en aangename verassing, maar om in daardie venster te sit wat uitgebou is soos 'n "bay window" met die see wat onder jou verbystroom, was ongelooflik.

Natuurlik het ons orals op die skip rondgeloop en dit ook meer as een keer buite gewaag, maar dit was snerpend koud op die dek.  Nou ja,  mooi foto's vereis dat mens nie deur glas moet afneem nie so veral Pieter het baie braaf tog langer tye buite gaan stap.




Kyk, ons was vrek opgewonde.  Hierdie was werklik 'n ongelooflike ervaring.  Soos reeds gesê was ons van Trondheim na Bergen oppad terug.  Die skip het by verskeie hawens aangedoen.  Die dorpe lê teen die berghange van die fjords - waar die see se fingers die land inkruip.  Gedurende die dag het 'n saksofoonspeler Nordiese musiek laat weerklink by die hawens waar ons aandoen  as ons invaar en weer met ons vertrek.






Die natuurskoon is ongelooflik.  Plat en vervelig bestaan net nie.  Die een bergpiek op die ander verreis dramaties soos ons vaar.  






Jip, ek was regtig daar!

1 comment:

  1. Sjoe maar dis mooi daar! Is daai kaart met die rooi bobbeltjies die roetekaart van die skip?

    ReplyDelete