Tuesday, 19 August 2014

Stavanger, die hawe

Stavanger by die see

Ons was so gelukkig om in die ou stad by die hawe waar al die passassierskepe aandoen te kon bly. 
Dit is soos die hawe lyk as dit minder besig is.




Net 'n blok hoër, by die Best Western hotel, is waar ons gebly het.


Die vuurtoring, net bokant ons hotel.






 

















































Die lewe in Stavanger, soos meestal in die hele Noorweë, het nog altyd om die see gedraai.  Die gemeenskap daar is nou die grootste wat dit nog ooit was.  Dit was lank 'n vissersgemeenskap wat 'n groot oplewing belewe het toe die sardientjies en die "brisling" in groot getalle lanks die kus opgemerk en gevang is.  Daar is 'n fabriek opgerig om die vis in te maak en 'n lekker blikkie sardientjies is geadverteer as net die regte ding om mee te onthaal of vir aandete.  
 Hierdie is 'n foto uit die inmaakfabriek se museum.

Toe die vis nie meer so volop is nie, het hulle in Stavanger begin bote en skepe bou - ook iets waarvoor Noorweë bekend is.  Dit het egter nie vir so baie mense werk verskaf nie.  Stavanger het eers regtig begin groei nadat olie in die Noordsee ontdek is. Daaroor meer op 'n ander dag.

Die hawe waarlangs ons gebly het is die toeriste hawe waar die ferries en die groot passasierskepe aandoen.  Ek en Pieter het ons verkyk toe so 'n groot passassierskip daar kom vasmeer het.  Dit is soos 'n hele stadsblok wat skielik tussen alles in beweeg.  Mens kan nie glo hoe dit in posisie kan kom nie.


In vergelyking met hierdie reus is die Hurtigruten, wat soos 'n hotel op die see is, werklik maar klein.

In dieselfde hawe het ons ons verstom aan hoe vaardig die kleiner bote om hierdie groot skepe kan beweeg.


Hier in Stavanger moes daar ook gewerk word.  Hier is Pieter sommer op sy rekenaar en foon gelyk.


So het dit in die lesinglokaal gelyk.  Voor staan die dame wat die kongres help reël en Pieter genooi het, Rebecca Solevag.


Sy was ook so gaaf om ons na haar huis, 'n entjie weg van Stavangersentraal af, te nooi.  Ons moes met die trein ry.

Hierdie is 'n "selfie"van ons twee so verskoon maar die vreemde uitdrukkings.







Monday, 11 August 2014

Stavanger - stad van beelde

Beeldhouwerk in Stavanger

In Oslo sowel as in Stavanger het die beeldhouwerke ons opgeval.  Nou kyk Oslo se beelde sou ons in Suid-Afrika lank met die vyeblare besig gehou het.  Met die jare kom meer verdraagsaamheid en waardering vir die skoonheid en ekspressiwiteit van naakte lywe, maar vir daardie album op my blog sien ek nog nie kans nie.  

In Stavanger is daar 'n beeld wat 'n mens sommer by 'n hele paar plekke raaksien - replikas - ons het besluit dis deel van 'n bemarkingsveldtog.

Hierdie een staan in die Stavangermuseum.

Daar is amper oral beelde, voor die winkels, in die parke, by die katedraal en tussen die huise.  Dit is veral mooi om te sien hoe die mense, veral die kinders, met hierdie beelde omgaan.  Hulle vryf die neuse van die skape en gaan sit op hulle.  Hierdie skape is in die middel van die ou dorp tussen die winkels.














Die seuntjie op 'n perd is ook voor winkels.













In die sentrale park om die katedraal en by die dam staan die volgende beelde.




Natuurlik maak die natuur tussenin sommer sy eie beelde in interaksie met die mooi ou houthuisies.


In 'n parkie tussen die huisies staan 'n hele paar beelde met 'n bord wat Lars H. Lende as die 
kunstenaar aandui.  


Kyk hoe spelerig is hierdie beeld.

Daar is ook pragtige houtsneewerk, naamlik die van Andrew Smith (ek sal dit nie maklik vergeet nie, want dit is ook een van my nefies se naam).  Voorbeelde hiervan is in die katedraal en in die museum te sien.  
Die preekstoel in die katedraal.


Die heel mooste beeld is die een by die hawe waarnaby ons gebly het. Ons het seker twintig foto's daarvan geneem en ek is nie seker hierdie is die mooiste een nie.

'n Skip in vlug.


Friday, 1 August 2014

'n Busroete soos geen ander

Bergen na Stavanger

'n Ongelooflike "busrit"


Die kongres wat Pieter moes gaan bywoon was in Stavanger, so ons moes nog van Bergen af daarheen gaan.  As deel van die inligting oor die Bergen omgewing word die busrit na Stavanger aanlyn aanbeveel as so goed soos om "Norway in a Nutshell" in die kleine te doen.  Ons was vroegoggend reeds by die trein- en busterminale (mooi bymekaar) en het toe gaan wag vir die bus om op te daag.

Die busterminaal lyk maar soos wel 'n busterminaal.  Ons het gaan wag waar daar reeds bagasie teen die pilare opgestapel was.


Soos ons ook in Engeland ervaar het is busbestuurders baie professioneel en behulpsaam. Kommunikasie is nou wel nie vlot nie, maar mens se bagasie word flink opgelaai.  Hierdie busbestuurder het ons besorg verseker dat hy ons sal wys hoe om te maak, want ons moes nog twee keer met ferries vaar om by Stavanger uit te kom.

Ons was bekommerd dat ons dalk ekstra kaartjies sou nodig hê en dit was reeds nogal duur, maar nee dis reeds ingesluit.  'n Mens kom gou agter hoekom jy soveel betaal.  Wifi is gratis beskikbaar. Die landskap om ons terwyl ons busry is pragtig en sluit weereens brûe en tonnels in.  Dit is werklik nie eenvoudig om hier te reis nie.   
 
Die mense op die bus pendel van een stad na die ander en daar word doelgerig beweeg so foto's neem is moeilik.  Nogtans is hierdie 'n rit van 5 ure.  Na 'n uur of wat is ons by die eerste ferrie.  Ons verwag om af te klim en met 'n ander bus verder te ry, maar tot ons verstomming ry die hele bus op die ferrie op en ons klim eers op die ferrie self af.  Vir my was 'n ferrie nog altyd 'n groot plat flot, maar hierdie is skepe wat busse en vragmotors en motors van alle soorte op twee dekke insluk.




Hier is ek op die ferrie.  Mense bestorm almal op die kafee want die eerste rit is vir 40 minute voor die bus weer van die ferrie afry en dan nuttig die meeste  'n warm maaltyd.  Noorweë is duur vir buitelanders, so ek en Pieter is tevrede met tee, o ja en 'n roomys.


Na die ferrie ons uitgespoeg het ry ons verder padlangs tot ons weer met 'n ferrie moet verder gaan.

Die see maak hier die strate.  Mense wat in Stavanger  bly vertel dat hulle vroeër jare per boot, as enigste opsie, heen en weer moes reis om vir die familie in Bergen te gaan kuier.  Daar is steeds mense wat glad nie 'n motor besit nie, maar almal het 'n vasmeerplek iewers.


Wat 'n wonderskone land.

Thursday, 31 July 2014

Die Hurtigruten, 6 Mei 2014

Van Trondheim terug na Bergen

Die Hurtigruten


Ons het geweet dat ons met die skip al langs die Weskus van Noorweë na Bergen toe sou terugkeer.  Nie ek of Pieter het nou al eintlik met 'n skip op die see gevaar vir enige tyd meer as 'n uur of twee nie, ook nooit 'n skip van enige noemenswaardige grote nie.  Ons was baie opgewonde. Die Hurtigruten het belowe om 'n hoogtepunt te wees, maar eers moes ons by die skip uitkom.

Soos die skip oor die see wegvaar, so moes ons ook uit Trondheim vertrek.


Ons besluit dus die aand voor die tyd dat ons moet gaan kyk vanwaar ons sou vertrek.  Trondheim in Mei is nou nie eintlik warm nie en daardie laatmiddag is dit bitter koud.  Die wind waai snerpend om ons oor die brug en om die Clarionhotel, maar ons kom darem by bordjies uit wat aandui hoe om by die skip se vasmeerplek uit te kom.  Uiteraard is die skip toe nog nie daar nie.  Dit is 'n werkende skip, in Engels bekend as die Coastal Express.  Mense klim op en af by die verskillende dorpe langs die kus.

















Die volgende oggend is dit ook koud, maar tasse en al neem dit nie lank nie of ons is by die skip.  Die Hurtigruten staan toe wraggies vir ons en wag - 'n groot, staal skip.


Die oomblik was groot, te groot om net eers 'n bietjie weg te staan en meer van 'n geheel prentjie te kon vaslê.  Ons strompel uit die grou uit na binne.  Die binneruim slaan ons asems weg.  Dis 'n luukse hotel!















Ons het verwag om deur patryspoorte na buite te kyk.  Kyk net die groot vensters!  Ons is met die grootste hartlikheid ontvang.  Die ontvangsdame ('n luitenant) bied ons 'n opgradering van blyplek aan en nog benoud oor wat ons moontlik mag aantref aanvaar Pieter dit dadelik.  Ons kry die wonderlikste suite vir die dag en ook sommer 'n komplimentêre bak vrugte met sjampanje (die het ons uitgesmokkel vir 'n volgende dag).  Dit was glo 'n geskenk van die kaptein af en tot vandag toe dink ek ons moes hom persoonlik bedank het.





Kyk die bad was 'n groot en aangename verassing, maar om in daardie venster te sit wat uitgebou is soos 'n "bay window" met die see wat onder jou verbystroom, was ongelooflik.

Natuurlik het ons orals op die skip rondgeloop en dit ook meer as een keer buite gewaag, maar dit was snerpend koud op die dek.  Nou ja,  mooi foto's vereis dat mens nie deur glas moet afneem nie so veral Pieter het baie braaf tog langer tye buite gaan stap.




Kyk, ons was vrek opgewonde.  Hierdie was werklik 'n ongelooflike ervaring.  Soos reeds gesê was ons van Trondheim na Bergen oppad terug.  Die skip het by verskeie hawens aangedoen.  Die dorpe lê teen die berghange van die fjords - waar die see se fingers die land inkruip.  Gedurende die dag het 'n saksofoonspeler Nordiese musiek laat weerklink by die hawens waar ons aandoen  as ons invaar en weer met ons vertrek.






Die natuurskoon is ongelooflik.  Plat en vervelig bestaan net nie.  Die een bergpiek op die ander verreis dramaties soos ons vaar.  






Jip, ek was regtig daar!