Tuesday, 7 January 2014

Ons loop van die "Lincoln Memorial" na die Capitol.

"Lincoln Memorial" tot by die Capitol


Ons kon nie wag om Washington DC te gaan verken nie, so op "Thanksgiving" loop ons toe in die rigting van die "National Mall" - dit is n nasionale park, n wonderlike groot oop ruimte in die middel van die Amerikaanse hoofstad.  

Ons loop verby lang tafels waar mense besig is om kos op te skep vir die haweloses.  Eerste kom ons by die "White House" eet.  Hierdie gebou lyk op die foto ook imponerend, maar vir die oog is dit 'n groot plaashuis wat afgewit is.


Ons het ook saam met die ander mense teen die heining saam gedrom.  Daar is nogal 'n groot polisieteenwoordigheid.  Toe niemand die rooi rugsak teen die heining wou eien nie is ons almal oor die pad (lekker breed) na die park beveel.  Nog polisievoertuie het binne sekondes opgedaag en toe hardloop 'n knaap nader om sy sak te gryp.  

Nie ver van daar nie het ons by die "National Mall" uitgekom.  As ek nou reg onthou is die land daar herwin van die Potomac rivier af.  Ons is Suid-Afrikaners en het ons gaan staap en vergaap aan hierdie ongelooflike rivier.
En ja, dit was nogal 'n koue dag.  

In die park het klein waterpoeletjies oornag gevries en is dan in stukkies "glas" gebreek soos mense daaroor loop.
Gevriesde modder is seker beter as die gewone nat variasie.

En daar is hy - die Abraham Lincoln "Memorial".  Hulle moes die standbeeld van Lincoln vergroot om dit nie te laat verdwerg in hierdie monument nie.  

Van hier af was ons oë op die Capitol gerig - dis 3 km weg.  Daar is ook ander monumente om na te kyk.  Ons is verby die "Washington Monument" wat toegemaak was om te restoreer of the verf of iets.
  
Dis regtig opwindend om al hierdie baie bekende ikone so van naby te bekyk.  Agterna besef 'n mens dat omtrent elke Amerikaanse film hierdie ikone gebruik en dat hulle oor en oor gebruik word.









Oppad het ons die "Smithsonian Institution Building" (1855) van nader gaan beskou.  Ons bene was moeg, wel myne was, en hierdie is so 'n pragtige gebou.  Dit word ook die kasteel genoem en is die hoofgebou vir 19 museums en gallerye en n navorsingsentrum.  



Daarna het ons die Thomas Jefferson "Memorial" gaan bekyk.  Die ysige wind het ons vinnig in die museum ingekry (dit is maar wat mens doen in die koue - loop n ent en gaan soek dan iewers warms).  Amerikaanse geskiedenis is vir ons nog redelik vreemd.  Thomas Jefferson het ons baie beïndruk.  Hier is iemand wat sy eie biblioteek vir die Amerikaanse regering aangebied het toe die nasionale biblioteek afgebrand het.  Daar word gesê agterna was die biblioteek meer gevarieerd en interessanter as voor die brand.   



Daar is hy - die Capitol, regeringsetel van Amerika.  Daar aangekom moes ons omloop na die "Visitors' Center" toe. Dit maak seker sin dat daar toe nou weereens 'n klomp militêre personeel op diens is en dat knipmesse nie toelaatbaar is nie, ook nie water nie.  Pieter het toe maar sy knipmes by die groen plastiek wat n boompie buite beskerm laat inglip.  Sjoe, n mens kom darem nie al die pad van Afrika af en stap nie die Capitol binne nie.

Binne is eers verwarrend, maar 'n vriendelike assistent het my gesê hy is ook van Afrika en ons moet nou net in die ry daar oorkant inval.  Die besoekers word in groepe ingedeel.  Daar is 'n groot ouditorium en daar wys hulle mens iets van die Amerikaanse geskiedenis.  Op hierdie stadium het jy reeds 'n ontvangstoestel om jou nek en 'n gids wat dat net met hierdie groep praat sonder dat ander groepe gesteur word.

Die vroutjie in die rooi was ons gids.
In hierdie saal is daar twee beelde vir elke staat.  Die beelde mag slegs van marmer en brons wees.  Kyk hoe oulik lyk Neil Armstrong.

Ons is ook in die saal ingeneem waar die senatore eers vergader het.  Dis lankal te klein.  Daarna het sy vir ons die "crypt" gewys.  


Die strate van Washington het hierdie kol as sy middelpunt.  Ek het daar gaan staan maar daardie foto draai my die heel tyd vertikaal, so duidelik is die kaal kol wat almal eintlik moet sien.

Vandaar is ons na die "Library of Congress"toe, dieselfde een wat Thomas Jefferson se versameling as grondslag het. 'n Mens loop met n lang gang van die Capitol af daarheen. 


Hierdie trap is in die voorportaal.  Die beeld op die punt is maar net n lamppaal.  Hierdie was een van die heel eerste geboue met elektrisiteit - 'n lig verdien aandag.

'n Mens kan van 'n balkon af deur glas na n biblioteekruimte staar.  Jy moet eers aansluit om daar te mag ingaan.  Jy kan ook nie boeke gaan afhaal nie, jy gee jou lys vir die bibliotekaris en hulle bring vir jou die boeke.  Jy kan die boeke ook net daar benut.


Daar is uitstallings in die hoofgebou (die biblioteek word nou in verskeie geboue gehuisves, want die versameling is nou onmenslik groot).  Een van hierdie uitstallings is van 'n Mainz bybel en van 'n Gutenberg bybel.  Die Mainz bybel is nog met die hand geskryf en die Gutenberg bybel is een van die heel eerste gedruktes.  Hulle lyk so dieselfde mens moet baie naby kyk om te sien die een het strepies om die skriba te help.  Die bybels word agter glas gehou en word swak verlig om hulle te beskerm.

Kan julle glo ons is nog dieselfde dag by die "Holocaust" museum in?  Daar mag mens nie foto's neem nie.  

Wraggies spreek my man toe nou sy ernstige kommer oor my gesondheid uit.  Ons het vandaar af terug hotel toe geloop.  Ek dink ek het goed gedoen.  

Monday, 6 January 2014

Die "National Air and Space Museum" , Washington DC

Vanaf Baltimore na Washington, DC


Ons is vroeg die oggend met n MARC trein na Washington se Union Station en vandaar na ons hotel, die Washington Plaza, met 'n Super Shuttle taxibussie.


Die uitsig uit die hotel op die Thomas Circle


Hier is ons baie vriendelik ontvang al was dit nog baie vroeg in die oggend.  Ons het toe sommer daar ook weggeval aan n heerlike buffetontbyt.  

Nie lank na ons aankoms nie, het +Chris Len de Wet en sy metgesel +Artemisa Rodrigues ook daar opgedaag.  Dit was maar n koue oggend met reën, so ons is met die "subway" na die "National Air and Museum" toe. 

Hier wag ek en Artemisa.












En hier is die rede vir ons groot opgewondenheid.  Daar is plekke wat 'n mens nie in jou wildste drome dink jy ooit gaan by uitkom nie - hierdie is so 'n plek.










Binne in het ons eers self met groot oë rondgekyk.  Natuurlik was die ruimtevaartafdeling sommer vanself eerste op die lys.  
Met Chris en Artemisa by kan ons saam afgeneem word.
Op die foto is ons agtergrond net 'n plakkaat, maar die landingstuig wat vir die maanlanding gebruik lyk veel meer onwerklik.  Die tuig is n een van die twee wat oorspronklik gemaak is, een word gebruik en die ander een word gehou vir ingeval, so dis regtig soos die ware Jakob gelyk het voor gebruik.


Daardie ou dun "beentjies" rofweg in foelie toegedraai laat n mens besef hierdie was n yslike waagstuk.










By die museum word begeleide toere aangebied, waarvoor mens nie ekstra hoef te betaal nie.  Ons het n wonderlike gids gehad.  Sy was werklik inspirerend en het tot vir Pieter met haar kennis oor vliegtuie beïndruk. 


Sy het so speels gevra waar ons wil begin, maar toe sommer self besluit om ons die begin lugvaart (avionika) te illustreer. 
Ons begin by Da Vinci se "ornithopter" (15de eeu) wat nooit gewerk het nie, maar wat wys hoe ons nog altyd gedroom het om te kan vlieg.  Ons stap by die saal in en daar is die gerestoreerde "Wright Flyer" - die regte egte oorspronklike!

Hier het die loods nog gelê.
Met die eerste vlug het hulle maar 37 meter kon aflê.  Is dit darem die vlerkspan van 'n Airbus? Orville en Wilbur het egter nie opgegee nie.  

Vergelyk nou daardie vliegtuig met die van Charles Lindbergh wat eerste die oseaan in n solovlug oorkruis het (van Long Island, New York na Parys) so net meer as twintig jaar later (1927).



Spirit of St Louis
Hierin het Lindbergh regop gesit en daar is net een stel vlerke!  Dit lyk na metaal maar is van geverfde hout.

Vandag stuur ons sommer onbemande verkenningstuie die lug in.




Van die sensors en kameras word in Suid-Afrika ontwikkel (my broer +Peet Swart het 'n groot aandeel hieraan).  

Na die toer is ons na die groot MacDonalds in die gebou om net weer energie op te bou.   

 Chris se groot pizza is toe verspot klein. 


So lyk 'n baie gelukkige Pieter.

Tuesday, 31 December 2013

Hoekom ons Baltimore toe is.

Baltimore - kongres

Ons is Baltimore toe omdat Pieter aan die jaarlikse SBL kongres gaan deelneem het.  As jy n Amerikaner is en jy wil in die veld van Godsdienswetenskap werk, dan moet jy eenvoudig jou gesig by hierdie kongres wys.  Hier is waar jy ander akademici wat in jou veld werk leer ken en jy uitgewers kan nader of hulle vir jou, as jy so gelukkig is.


Dit het dus oor Pieter se werk gegaan.  Hierdie kongres duur net vier dae, maar die program lyk soos 'n Pretoria telefoonboek.  Dis ook onmoontlik om alle sessies by te woon.  Jy moet kies.

Om amper soos deel van die groep te voel (Pieter was so gaaf om my ook in te skryf as kongresganger), moet jy kan se watter sessies jy gaan bywoon.  






Die kongres gebruik n hele sentrum (n gebou wat n hele stadsblok groot is) asook lokale in drie hotelle.  Ek twyfel of ons een so 'n sentrum in Suid-Afrika het.   Die Amerikaners praat van 'n "Convention Center".

'n Mens gaan deur hierdie deure in.  Binne is die hele vier verdieping gebou lugversorg en die vloer is orals met mat bedek.  Daar is 'n groot ontvangs toonbank en nog n kantoor waar jy jou "tote" sak kan gaan afhaal.  

Op een van die vloere word 'n groot saal aan boeke toegewei - al die nuutste publikasies.  Dis ook hier wat jy met uitgewers kan gesels.  


Verder is daar n uitstalling van modelskepe, soos onder andere 'n Romeinse galei wat in Ben Hur gebruik is. Teen die mure is interessante "posters", soos hierdie een wat n redelik tipiese Amerikaanse ontbyt voorstel. 

Daar is ook 'n hele aantal stalletjies wat kos verkoop, onder andere Starbucks (baie gewild).  Die rye mense wat hier staan en wag om gehelp te word is iets om te aanskou.   

Ek het Pieter se lesing gaan bywoon en ook +Chris de Wet s'n. 'n Lesing wat ek baie geniet het was die van Janet Stephens.  Sy het gepraat oor die Argeologie van Romeinse vroue se hare.  Sy het op n stadium self 'n lesing bygewoon waar daar beweer is net die ryk vrouens kon die komplekse haarstyle van die Romeinse era bekostig.  Self n haarkapster, het sy besluit om te kyk of dit lank sou vat of duur sou wees om jou so op te tooi.  Vir haar neem dit glad nie lank nie.  Interessant is dat die hare vasgewerk is met naald en gare. 

Soos julle kan sien sit daar toe voor my n groot Amerikaner - die lokaal was stampvol.  In die hoekie sit Alicia Batten, n Kanadese professor.



Nou ja, so lyk die eindproduk van voor.


En van agter.

'n Mens vergeet die professore het eintlik baie te se oor die werklike lewe. 


Monday, 30 December 2013

Die akwarium in Baltimore

Kyk ons het nie hierdie keer swaar gekry in Amerika nie, Mc Donalds was ons slegste maaltyd en dit was nie sleg nie.  Ons het heerlik geeet.  Die lekkerste lekker in Baltimore was egter ons besoek aan die akwarium.

Die hele onderste vloer is - tot ons aanvanklike frustrasie - net restaurant en fotoneem en bereplek.  So kom dit dat ons eers na besprekings van spesifieke diere gaan luister.  Ons sien n ongelooflike blou papegaai en 'n insek.  Kyk self.


Die assistent met die kokkerot vra toe of ons al die jellievisuitstalling gesien het.  Die jellievisse neem ons oseane oor, want al hulle natuurlike vyande soos skilpaaie,walvisse en tuna word uitgewis. Verder floreer hulle op klein vissies en viseiers.  Dit nou gese, ons was verstom, die goed is mooi.


Hulle is ook baie.

















Van daar af het ons na die dolfynvertoning gesien, nog onbewus van wat eintlik vir ons wag.  Daar is groot binnemuurse dolfynpoele en 'n hele klomp mense wat hulle dophou en afrig.  Om hulle af te neem is erg moeilik, want hulle staan nie eintlik stil nie.

Hierdie een kon nie Pieter se vinnige kamera ontduik nie.












As hulle vir die skare moet handeklap kan ek hulle ook afneem.  Die poele se kante is van deursigtige materiaal, so ons kon hulle ook onderwater bewonder en afneem.

Hierdie was weereens baie mooi: die dolfyne is gesond en lyk lewenslustig en reg om hulle toertjies te vertoon.  Hulle teel ook heel goed aan so in gevangeskap.


Na die dolfyne kom ons by die kunsmatig geboude koraalrif uit.  Dit strek oor drie verdiepings.  Mens loop aan die binnekant van n yslike tenk wat mens van n venstermuur af kan bekyk.  Die effek is die van baie akwariums waarby jy stadig kan verby stap of sommer net kan gaan en staar. Hierdie koraalrif en die seelewe daarop is ongelooflik mooi.  Daar is visse van geel en swart en blou en grys.  Die koraal is vol van allerhande kleure.  Ons het al n paar keer vissies in tenks aangehou, met wisselende welslae.  Hierdie tenk is 'n wonderwerk.  Vissies agter glas laat hulle egter nie heeltemal so maklik afneem nie.  Gelukkig is Pieter n veel beter fotograaf as ek - dis net sy kamera besluit toe ook halfpad deur die huidige geheueskyfie gaan nie verder werk nie.


Hier is darem n proeseltjie van die mooi wat ons beleef het.



Hierdie vis is een van 'n paar wat sommer baie verby geswem het.










Die akwarium bevat ook 'n tropiese woud met goue apies en n stukkie van Australië met voorbeelde van die vislewe daar.  Die binnelandse visse is egter vaal in vergelyking met die seevisse.

Ons wou nog baie sien, maar daar was nie nog dae nie.

Baltimore Inner Harbor

BALTIMORE INNER HARBOR

Dis nou waarnatoe toergroepe en families kom so op 'n vakansie- of naweekuitstappie.
Die een kant van die hawe

Van hier af stap n mens by Ripley's Believe it on Not verby waar n groot klipbal op n bietjie water balanseer en n mens die wereld se langste man (2,75 meter) in afbeelding kan bewonder.



As mens nou net daar bly staan en dis vroeg in die oggend, so 10vm, kan jy vir "Santa"sien verby loop na "Santa's Little Hut" waar jy op Vader Kersfees se skoot kan gaan poseer vir n foto en as jy darem nou nie te stout was nie kan jy dalk net die Kersgeskenk van jou drome kry.



Soos enige een kan sien, teen einde November is die wereld (ag aarde, hoe sit n mens 'n kappie op), hier nat en koud.   Aan die agterkant van Santa se hut is een van die klein winkelsentrums op die hawe sigbaar.  As jy daarheen stap is daar nog een sentrum voor waar jy dalk vinnig kan ingaan om net n bietjie te ontvries.  Cheesecake Factory is 'n baie oulike koffiewinkel vir net hierdie doel.  Onthou net alles in Amerika is vir n Suid-Afrikaner maar peperduur.  Kos in Suid-Afrika is wonderlik goedkoop in vergelyking met Amerikaanse pryse.

Stap verder aan en daar staan n kleiner replika van die World Trade Centre wat aan 9/11 herinner.  Daar word n groot gebuigde stukkende metaalstut uit die oorspronklike gebou uitgestal.  As jy nou boontoe gaan kan jy die museum gaan besigtig en ver uitkyk oor Baltimore.


Daar is nie minder as vyf museumskepe in die Inner Harbor waarop jy kan gaan rondstap.  Daar is n outydse seilboot en n duikboot en alles tussenin.  Dis tog jammer dat 'n mens nie met die kamera dieselfde beeld kan kry as wat jou oog sien nie.  Met die oog verdwyn al die baie geboue in die agtergrond en net die takelwerk en boeg bly oor.



Stap jy verby die hoe monument kom jou op n area af waar busse kan parkeer en waar toergroep en skoolkinders uitpeul. Hier is daar tuineilandjies tussen die plaveisel van waaruit Tschaikovsky gehoor kan word.  Gaan jy nader sien jy dis eintlik n poging om mense te motiveer om die moerasland te bewaar.  Voor die 9/11 gebou is daar ook drywende graseilande wat afgesper is van die res van die hawe.  Die eilandjies is van ou plastiek aanmekaar gesit en daar is gras opgeplant -  ook n poging om die hawe te laat herlewe.




Nou le die akwarium en die kunsmuseum voor.  Baie groepe is oppad na die akwarium daar naby die Chesapeake museumskip en die duikboot.


Skuins agter is n ou kragstasie wat omskep is in n reuse boekwinkel.  Ek en my man, Pieter, kan ure in so 'n boekwinkel deurbring.  Ek sou beslis kon oorwinter in so n Barnes en Noble.  Net langs die boekwinkel is die Hard Rock kafee (dis nou waarom die groot kitaar bo-op is), maar ons was net n paar dae daar en kon ongelukkig nie alles verken nie.  Ons het ons gehaas na die akwarium.


Wednesday, 18 December 2013

Baltimore, 22 - 27 Nov

POORT NA AMERIKA

Baltimore

My kort inleiding tot Amerika het die bestuurder van die Super Shuttle vir my verskaf oppad van Washington Dulles lughawe na die hotel in Baltimore.  Hy (ons noem hom nou maar Sam) kom ook oorspronklik van Afrika en weet van Kaapstad.  Hy het familie in Suid-Afrika.  (Dit is nou deel van die onverwagte vir hierdie besoeker uit Afrika - die bestuurder was self nie van slawe afkoms nie, maar baie mense hier is onmiskenbaar van Afrika afkomstig.  Dit laat mens nogal tuis voel.)  Sy Engels val maar n bietjie swaar op die oor en dit help nie dat ek sopas 'n sewentienuur lange vlug agter die blad het nie.  Sam verduidelik dat ons nou na 'n ander staat toe ry al is die rit maar n uur lank:  Baltimore is in Maryland, Washington is in Columbia.  Dis nou Washington DC, want behalwe vir state is alles in distrikte verdeel.  Die bestuurder self  bly in Baltimore en gee daarom nie te veel om om n enkele passassier al die pad te neem nie.

So lyk Baltimore (Inner Harbor) vanuit die hotel.

Daar is n sewe ure verskil tussen Suid-Afrika en Baltimore, so slaaptyd is heelwat later as gewoonlik.  Pieter neem my uit vir ete in die Baltimore Inner Harbor area by 'n Ierse restaurant.


Tenspyte van vlugvoosheid heel aangenaam.



Die binnekant

Ons loop ook op die hawefront rond wat ek in die volgende dae op my eie en weer saam met Pieter verken.  Dit is duidelik mooi gemaak vir families en toeriste om besoek te kan kom afle, maar daarvan vertel ek eers weer later.