Sunday 4 May 2014

Van blommeland na ysland

Ons vertrek uit Blommeland en eindig op in "Frozen"

Deel 1


Vroeg die oggend van 1 Mei, op Werkersdag, klim ons op die trein in Bergen saam met nog 'n paar opgewonde toeriste.  Ons soek almal 'n venstersitplek want nou gaan ons deur die beroemde fjordlandskap ry. Ons sien 'n flits van 'n pragtige plek met groen gras, bome en 'n sneeubedekte piek of twee, spring almal op om te kyk en staar toe vir die tonnelmuur.  Het ek gesê Noorweë is vrot van die tonnels en brûe?  

Ons klim af by Voss om met die bus verder te ry.  Daar lui nie eers 'n klokkie nie, maar soos ons verder ry (ons tref toe die wonderlikste busbestuurder), dring dit deur dat hierdie die wêreldberoemde Voss, plek van ekstreme sportaktiwiteite is.

So lyk dit deur die bus se venster.  Ons sit heel voor.



Dis so mooi 'n mens moet jouself knyp om dit te glo.  Die rivier, wat nou nog nie baie vol is nie, omdat daar nog baie sneeu moet smelt, word gebruik vir kanovaart (is dit die regte woord vir "river rafting"?). Daar steek so baie rotse uit dat dit beslis baie uitdagend moet wees selfs met meer water.

Hierdie is die einste rivier waarin afgevaar word in die week van "X-treme sport"

In die sportweek vind hier ook "base jumping" plaas van die steil rotswande af. Party sweef dan ver oor die vallei. Voss is pragtig en 'n baie opwindende omgewing.  Hopelik kan ons eendag meer tyd daar deurbring.


Ons ry verder en is so gelukkig, die pad maak eers 1 Mei vir die jaar oop, om met 'n kronkelpad in die vallei in te ry.  Hierdie pad van 1,5km lank, bekend as die Stalheimskleiva, was eers die enigste pad en skoolkinders moes elke dag  hierlangs skooltoe.  Dit was 'n pad vir tweerigting verkeer.  Kyk, dis baie, baie mooi, maar ek sal nie eers met my Polo daar wou afry nie.  Dis nou ook waar mense met skaatsborde al af is vir "body boarding".  Blykbaar moet jy by elke draai jou bord heeltemal dwars draai om dit te kan regkry.  Daar is 13 skerp haarnaalddraaie.

Onthou ons sit reg voor.
Add caption
Kyk die gradiënt: ons daal 1 meter vertikaal vir elke 18 meter wat ons ry.

Diep onder in die vallei kom ons by die dorpie Gudvangen uit waar die Naeroyfjord begin.  Noorweegs is verwant aan die taalfamilie waaraan ons ook behoort, so mens kan aflei dit beteken nou of "narrow".


Hier is Pieter voor die winkel naby die pier waar ons op die ferrie gaan klim.

Die fjord is 'n Wêreld Erfenisterrein. Hier is 'n kaart met die roete wat ons gevolg het.


Die ferrie is 'n openbare vervoermiddel en mense met 'n kar klim op Undredal af en weer 'n meisie met 'n fiets by Aurland.  Ons loop oral op die ferrie rond en geniet die ongelooflike uitsig.  Partykeer kruip ons binne weg vir die koue wind en dan trotseer ons weer die elemente vir hierdie buitelugervaring.  Die plase knyp hier teen die berg vas.  Een plaas moes tot van 'n leër gebruik maak om hoër op te beweeg.  
 Hier is soveel riviere en mere, almal kan 'n plekke reg op die oewer kry.  Selfs die stoor kan ook daar staan.

Ons klim by Flåm af.  Nou is ons nog nie by die sneeu nie, so hierdie is deel 1.


No comments:

Post a Comment