Friday, 9 May 2014

Tuis by Koning Olaf


TRONDHEIM

Na 'n lang treinrit van Oslo af kom ons weereens in die middel van die nag in Trondheim aan.  Trondheim was nog altyd vir my net 'n plek waar Dick Francis se speurder 'n skurk op die ou brug raak geloop het.  Nou ja, ons weet Dick Francis doen goeie navorsing vir sy speurverhale so die brug is daar, maar die brug waaroor ons die eerste nag loop is 'n nuwe een oor die rivier.  

Dit is nie baie donker nie, die son gaan nou eers so teen kwart oor tien onder en dan bly dit skemer, maar ysreën val om ons.  Gelukkig is die hotel regtig nie ver nie en binne is dit lekker warm en 'n baie vriendelike jong Noorwëer ontmoet ons binne.  Ons kan soveel koffie en tee drink as wat as wil en saans kan ons verniet vir onsself wafels bak en dan bruin Noorweegse kaas daarby eet.  Lekker!


Dis ons hotel in die middel, die Best Western Havely.

Ons wafels, vars en warm.


Ons het net 'n dag en die oggend begin weer met koue reënweer buite so ons besluit om doelgerig na een plek toe te gaan:  die Nikarosdom, gebou oor die graf van die heilige Olaf.  Olaf was 'n Vikingkoning wat Noorweë wou kersten en daarom is hy aangeval en is doodgekap.  Na 'n jaar is sy lyk gekry nog net soos dit was, 'n duidelike teken dat hy 'n heilige was.



Sy storie word vertel op hierdie bord wat voor die altaar in die katedraal gestaan het.  Dit het baie mooi beware gebly.  Regs bo wys hulle hoe hy na 'n jaar gelyk het met al sy wonde sigbaar.

Na sy dood het die christendom algemeen gevestigd geraak in Noorweë en vandaar dat daar vandag nog die pragtige katedraal daar staan.


















Naby die kerk is die aartsbiskop se kwartiere.  Dit was duidelik sommer 'n dorp op sy eie.  Allerhande handwerk het daar plaasgevind.  Daar was ook 'n munt wat vandag die oudse  bes bewaarde voorbeeld in Noorweë van so 'n instelling is.  Die geboue huisves nou 'n museum. Mens kan na die kroonjuwele van Noorweë daar gaan kyk en na al die oorblyfsels van die katedraal wat al 'n paar maal herbou moes word.


Die ou munt  ('n skaalmodel)


 

Wednesday, 7 May 2014

Oslo, hoofstad van Noorweë

Net 'n vinnige kykie

Ons kom eers kwart voor elf in Oslo aan en is verbaas oor al die aktiwiteit.  Gelukkig is die hotel naby.  

Die volgende dag het ons 'n paar uur voordat ons weer verder reis.  Ons het ander keer ons al vergaap aan die ongelooflike argitektuur van die Operahuis so ons besluit om weer soontoe te koers (sien heel onder).Dit is op die hawefront.  Allerhande nuwe ontwikkelinge is daar aan die gang en ons koers meer binneland toe.Ons kom op 'n lieflike kloosterkompleks by die Oslo Domkerk af. Die gebou is in gebruik vir hoofsaaklik restaurante en kafees.  Lewe beteken verandering.



In 'n stegie vind ons boheemse koffiekroeë en sak by een neer.  Dit is duidelik 'n tuiste vir musikante en ander laatnag sluipers, maar die toilet is skoon en die koffie lekker.













Dis steeds vreemd hoe net 'n inkoers in 'n steeg of ingaan in 'n gebou die omgewing heeltemal kan verander. Die Noorweërs is baie trots daarop dat hulle (soos ons) buitelugmense is, maar ons ontdek 'n lang gang af in 'n groot gebou wat die stasie en hotelle en parkeergeboue verbind.  Dis baie modern en daar is elke paar treë die oulikste sitplekke.  












Die brug oor na die parkade laat ons besef dat ons seker weer na die stasiegebou moet koers.  Kyk net die kontras tussen die ou klooster bo en hierdie spooroorgang en geboue.  Die uitsig is so modern dis skokkend.














Hier is baie blyke van kunssinnigheid en kunswaardering.  Die nuwe operagebou is vir my en Pieter fassinerend.  Hierdie is gebou is 'n uitnodiging om teen op te loop.



Monday, 5 May 2014

'n Ongelooflike treinspoor en dan die sneeu

Van Blommeland na Ysland

Deel 2


Ons is by Flåm in die vallei by die beginpunt van die Flåm treinspoor.





Hierdie spoor van 20  kilometer het 20 jaar gevat om te voltooi en dit het net mooi 20 tonnels (in totaal 6 kilometer is tonnels waarvan 18 nog met die hand uitgedolwe moes word).  Die helling waarteen dit gebou moes word is weereens 1:18.  Die treinrit na Myrdal toe gee mens 'n uitkyk op van die mooiste dele van die Noorweegse berglandskap.  Riviere sny deur diep afgronde, watervalle huppel oor die kante van steil, sneeubedekte berge en dan is daar sowaar plase ook.  

In die sneeu by Myrdal 


'n Trein oppad na Flåm
Ons voel ons moet onsself knyp om te glo ons is regtig op hierdie trein.  Ons raak al hoe meer opgewonde, want daar is sneeu op die pieke en dit kom al nader. Ons klim uit by 'n pragtige waterval en dan ry ons tot by Myrdal en daar is sneeu, baie sneeu.  Dis ook ysig koud so ons gaan kruip in die treinhalte weg.  Daarbinne is dit amper te warm.  Ons koop tee en koffie en iemand is gaaf genoeg om ons saam af te neem.



Na 'n uur vertrek ons na Oslo met die NSB.  Hierdie is 'n langafstandstrein wat wonderlik gerieflik is.  'n Mens kry toegang tot gratis wifi en die sitplekke is ruim en sag. Vanuit die venster bewonder ons die sneeu.  Ons ry verby 'n ski-oord.  Die Noorweërs het 'n ongelooflike lang ski seisoen - Mei is Lente. Ons kom eers kwart voor elf in Oslo aan en is verstom om te sien dat dit nog 'n miernes van aktiwiteit is.  Almal beweeg vinnig.  As dit so by 0 of minder grade kom loop niemand meer stadig nie.  Ons vind die hotel maklik.

(Hierdie blogprogram is vanaand sommer vol streke.  Die foto's wil net inpas waar hulle wil en die teks wil nie links begin nie. Voor hier nou stukke verdwyn gee ek hiermee op op 'n meer logiesie volgorde).
















Sunday, 4 May 2014

Van blommeland na ysland

Ons vertrek uit Blommeland en eindig op in "Frozen"

Deel 1


Vroeg die oggend van 1 Mei, op Werkersdag, klim ons op die trein in Bergen saam met nog 'n paar opgewonde toeriste.  Ons soek almal 'n venstersitplek want nou gaan ons deur die beroemde fjordlandskap ry. Ons sien 'n flits van 'n pragtige plek met groen gras, bome en 'n sneeubedekte piek of twee, spring almal op om te kyk en staar toe vir die tonnelmuur.  Het ek gesê Noorweë is vrot van die tonnels en brûe?  

Ons klim af by Voss om met die bus verder te ry.  Daar lui nie eers 'n klokkie nie, maar soos ons verder ry (ons tref toe die wonderlikste busbestuurder), dring dit deur dat hierdie die wêreldberoemde Voss, plek van ekstreme sportaktiwiteite is.

So lyk dit deur die bus se venster.  Ons sit heel voor.



Dis so mooi 'n mens moet jouself knyp om dit te glo.  Die rivier, wat nou nog nie baie vol is nie, omdat daar nog baie sneeu moet smelt, word gebruik vir kanovaart (is dit die regte woord vir "river rafting"?). Daar steek so baie rotse uit dat dit beslis baie uitdagend moet wees selfs met meer water.

Hierdie is die einste rivier waarin afgevaar word in die week van "X-treme sport"

In die sportweek vind hier ook "base jumping" plaas van die steil rotswande af. Party sweef dan ver oor die vallei. Voss is pragtig en 'n baie opwindende omgewing.  Hopelik kan ons eendag meer tyd daar deurbring.


Ons ry verder en is so gelukkig, die pad maak eers 1 Mei vir die jaar oop, om met 'n kronkelpad in die vallei in te ry.  Hierdie pad van 1,5km lank, bekend as die Stalheimskleiva, was eers die enigste pad en skoolkinders moes elke dag  hierlangs skooltoe.  Dit was 'n pad vir tweerigting verkeer.  Kyk, dis baie, baie mooi, maar ek sal nie eers met my Polo daar wou afry nie.  Dis nou ook waar mense met skaatsborde al af is vir "body boarding".  Blykbaar moet jy by elke draai jou bord heeltemal dwars draai om dit te kan regkry.  Daar is 13 skerp haarnaalddraaie.

Onthou ons sit reg voor.
Add caption
Kyk die gradiënt: ons daal 1 meter vertikaal vir elke 18 meter wat ons ry.

Diep onder in die vallei kom ons by die dorpie Gudvangen uit waar die Naeroyfjord begin.  Noorweegs is verwant aan die taalfamilie waaraan ons ook behoort, so mens kan aflei dit beteken nou of "narrow".


Hier is Pieter voor die winkel naby die pier waar ons op die ferrie gaan klim.

Die fjord is 'n Wêreld Erfenisterrein. Hier is 'n kaart met die roete wat ons gevolg het.


Die ferrie is 'n openbare vervoermiddel en mense met 'n kar klim op Undredal af en weer 'n meisie met 'n fiets by Aurland.  Ons loop oral op die ferrie rond en geniet die ongelooflike uitsig.  Partykeer kruip ons binne weg vir die koue wind en dan trotseer ons weer die elemente vir hierdie buitelugervaring.  Die plase knyp hier teen die berg vas.  Een plaas moes tot van 'n leër gebruik maak om hoër op te beweeg.  
 Hier is soveel riviere en mere, almal kan 'n plekke reg op die oewer kry.  Selfs die stoor kan ook daar staan.

Ons klim by Flåm af.  Nou is ons nog nie by die sneeu nie, so hierdie is deel 1.


Saturday, 3 May 2014

Ons gaan Noord - ver Noord 


Op 29 April 2014 vertrek ons landuit met hierdie imponerende vliegtuig, 'n Airbus A380.  Dis nodig dat dit groot en sterk moet wees, want hopelik sal dit nie maklik spoorloos verdwyn soos die vliegtuig wat uit Maleisië vertrek het nie.


Ons is oppad Noorweë toe.  Ons land in Heathrow en vertrek dan na Bergen aan die Weskus.  Dit is gedeeltelik bewolk en ons kan duidelik sien hoe die kuslyn meer aan souskluitjies as n soliede landmassa herinner.  In British Airways se tydskrif  is daar 'n artikel oor hoe daar op een van hierdie eilande net 'n honderd persone bly met net een motorkar.  'n Mens sou hier 'n leeftyd kon deurbring van eilande besoek en tussen eilande rondvaar. 

Hierdie is die kus wat beroemd is vir al die fjords en dis hierdie fjords wat ons so opgewonde het. Ons land in Bergen en ry met die bus na die middestad.  Die onherbergsame landskap word beklemtoon deur die talle kilometerlange tonnels waardeur ons ry. Bergen is die stad van die sewe berge.
.
Dis die maand van Mei, lente in Europa en Bergen stel nie teleur nie.  Die seestrome aan die Weskus sorg daarvoor dat dit hier warmer is as in die Ooste van die land.  Dis net blommetjies waar jy kyk.


 Hier staan Pieter by 'n bedding tulpe.
 Is hierdie kersiebome? Ons is nie seker nie.







Hier kan 'n mens van die berge sien.

Tuesday, 7 January 2014

Ons loop van die "Lincoln Memorial" na die Capitol.

"Lincoln Memorial" tot by die Capitol


Ons kon nie wag om Washington DC te gaan verken nie, so op "Thanksgiving" loop ons toe in die rigting van die "National Mall" - dit is n nasionale park, n wonderlike groot oop ruimte in die middel van die Amerikaanse hoofstad.  

Ons loop verby lang tafels waar mense besig is om kos op te skep vir die haweloses.  Eerste kom ons by die "White House" eet.  Hierdie gebou lyk op die foto ook imponerend, maar vir die oog is dit 'n groot plaashuis wat afgewit is.


Ons het ook saam met die ander mense teen die heining saam gedrom.  Daar is nogal 'n groot polisieteenwoordigheid.  Toe niemand die rooi rugsak teen die heining wou eien nie is ons almal oor die pad (lekker breed) na die park beveel.  Nog polisievoertuie het binne sekondes opgedaag en toe hardloop 'n knaap nader om sy sak te gryp.  

Nie ver van daar nie het ons by die "National Mall" uitgekom.  As ek nou reg onthou is die land daar herwin van die Potomac rivier af.  Ons is Suid-Afrikaners en het ons gaan staap en vergaap aan hierdie ongelooflike rivier.
En ja, dit was nogal 'n koue dag.  

In die park het klein waterpoeletjies oornag gevries en is dan in stukkies "glas" gebreek soos mense daaroor loop.
Gevriesde modder is seker beter as die gewone nat variasie.

En daar is hy - die Abraham Lincoln "Memorial".  Hulle moes die standbeeld van Lincoln vergroot om dit nie te laat verdwerg in hierdie monument nie.  

Van hier af was ons oë op die Capitol gerig - dis 3 km weg.  Daar is ook ander monumente om na te kyk.  Ons is verby die "Washington Monument" wat toegemaak was om te restoreer of the verf of iets.
  
Dis regtig opwindend om al hierdie baie bekende ikone so van naby te bekyk.  Agterna besef 'n mens dat omtrent elke Amerikaanse film hierdie ikone gebruik en dat hulle oor en oor gebruik word.









Oppad het ons die "Smithsonian Institution Building" (1855) van nader gaan beskou.  Ons bene was moeg, wel myne was, en hierdie is so 'n pragtige gebou.  Dit word ook die kasteel genoem en is die hoofgebou vir 19 museums en gallerye en n navorsingsentrum.  



Daarna het ons die Thomas Jefferson "Memorial" gaan bekyk.  Die ysige wind het ons vinnig in die museum ingekry (dit is maar wat mens doen in die koue - loop n ent en gaan soek dan iewers warms).  Amerikaanse geskiedenis is vir ons nog redelik vreemd.  Thomas Jefferson het ons baie beïndruk.  Hier is iemand wat sy eie biblioteek vir die Amerikaanse regering aangebied het toe die nasionale biblioteek afgebrand het.  Daar word gesê agterna was die biblioteek meer gevarieerd en interessanter as voor die brand.   



Daar is hy - die Capitol, regeringsetel van Amerika.  Daar aangekom moes ons omloop na die "Visitors' Center" toe. Dit maak seker sin dat daar toe nou weereens 'n klomp militêre personeel op diens is en dat knipmesse nie toelaatbaar is nie, ook nie water nie.  Pieter het toe maar sy knipmes by die groen plastiek wat n boompie buite beskerm laat inglip.  Sjoe, n mens kom darem nie al die pad van Afrika af en stap nie die Capitol binne nie.

Binne is eers verwarrend, maar 'n vriendelike assistent het my gesê hy is ook van Afrika en ons moet nou net in die ry daar oorkant inval.  Die besoekers word in groepe ingedeel.  Daar is 'n groot ouditorium en daar wys hulle mens iets van die Amerikaanse geskiedenis.  Op hierdie stadium het jy reeds 'n ontvangstoestel om jou nek en 'n gids wat dat net met hierdie groep praat sonder dat ander groepe gesteur word.

Die vroutjie in die rooi was ons gids.
In hierdie saal is daar twee beelde vir elke staat.  Die beelde mag slegs van marmer en brons wees.  Kyk hoe oulik lyk Neil Armstrong.

Ons is ook in die saal ingeneem waar die senatore eers vergader het.  Dis lankal te klein.  Daarna het sy vir ons die "crypt" gewys.  


Die strate van Washington het hierdie kol as sy middelpunt.  Ek het daar gaan staan maar daardie foto draai my die heel tyd vertikaal, so duidelik is die kaal kol wat almal eintlik moet sien.

Vandaar is ons na die "Library of Congress"toe, dieselfde een wat Thomas Jefferson se versameling as grondslag het. 'n Mens loop met n lang gang van die Capitol af daarheen. 


Hierdie trap is in die voorportaal.  Die beeld op die punt is maar net n lamppaal.  Hierdie was een van die heel eerste geboue met elektrisiteit - 'n lig verdien aandag.

'n Mens kan van 'n balkon af deur glas na n biblioteekruimte staar.  Jy moet eers aansluit om daar te mag ingaan.  Jy kan ook nie boeke gaan afhaal nie, jy gee jou lys vir die bibliotekaris en hulle bring vir jou die boeke.  Jy kan die boeke ook net daar benut.


Daar is uitstallings in die hoofgebou (die biblioteek word nou in verskeie geboue gehuisves, want die versameling is nou onmenslik groot).  Een van hierdie uitstallings is van 'n Mainz bybel en van 'n Gutenberg bybel.  Die Mainz bybel is nog met die hand geskryf en die Gutenberg bybel is een van die heel eerste gedruktes.  Hulle lyk so dieselfde mens moet baie naby kyk om te sien die een het strepies om die skriba te help.  Die bybels word agter glas gehou en word swak verlig om hulle te beskerm.

Kan julle glo ons is nog dieselfde dag by die "Holocaust" museum in?  Daar mag mens nie foto's neem nie.  

Wraggies spreek my man toe nou sy ernstige kommer oor my gesondheid uit.  Ons het vandaar af terug hotel toe geloop.  Ek dink ek het goed gedoen.  

Monday, 6 January 2014

Die "National Air and Space Museum" , Washington DC

Vanaf Baltimore na Washington, DC


Ons is vroeg die oggend met n MARC trein na Washington se Union Station en vandaar na ons hotel, die Washington Plaza, met 'n Super Shuttle taxibussie.


Die uitsig uit die hotel op die Thomas Circle


Hier is ons baie vriendelik ontvang al was dit nog baie vroeg in die oggend.  Ons het toe sommer daar ook weggeval aan n heerlike buffetontbyt.  

Nie lank na ons aankoms nie, het +Chris Len de Wet en sy metgesel +Artemisa Rodrigues ook daar opgedaag.  Dit was maar n koue oggend met reën, so ons is met die "subway" na die "National Air and Museum" toe. 

Hier wag ek en Artemisa.












En hier is die rede vir ons groot opgewondenheid.  Daar is plekke wat 'n mens nie in jou wildste drome dink jy ooit gaan by uitkom nie - hierdie is so 'n plek.










Binne in het ons eers self met groot oë rondgekyk.  Natuurlik was die ruimtevaartafdeling sommer vanself eerste op die lys.  
Met Chris en Artemisa by kan ons saam afgeneem word.
Op die foto is ons agtergrond net 'n plakkaat, maar die landingstuig wat vir die maanlanding gebruik lyk veel meer onwerklik.  Die tuig is n een van die twee wat oorspronklik gemaak is, een word gebruik en die ander een word gehou vir ingeval, so dis regtig soos die ware Jakob gelyk het voor gebruik.


Daardie ou dun "beentjies" rofweg in foelie toegedraai laat n mens besef hierdie was n yslike waagstuk.










By die museum word begeleide toere aangebied, waarvoor mens nie ekstra hoef te betaal nie.  Ons het n wonderlike gids gehad.  Sy was werklik inspirerend en het tot vir Pieter met haar kennis oor vliegtuie beïndruk. 


Sy het so speels gevra waar ons wil begin, maar toe sommer self besluit om ons die begin lugvaart (avionika) te illustreer. 
Ons begin by Da Vinci se "ornithopter" (15de eeu) wat nooit gewerk het nie, maar wat wys hoe ons nog altyd gedroom het om te kan vlieg.  Ons stap by die saal in en daar is die gerestoreerde "Wright Flyer" - die regte egte oorspronklike!

Hier het die loods nog gelê.
Met die eerste vlug het hulle maar 37 meter kon aflê.  Is dit darem die vlerkspan van 'n Airbus? Orville en Wilbur het egter nie opgegee nie.  

Vergelyk nou daardie vliegtuig met die van Charles Lindbergh wat eerste die oseaan in n solovlug oorkruis het (van Long Island, New York na Parys) so net meer as twintig jaar later (1927).



Spirit of St Louis
Hierin het Lindbergh regop gesit en daar is net een stel vlerke!  Dit lyk na metaal maar is van geverfde hout.

Vandag stuur ons sommer onbemande verkenningstuie die lug in.




Van die sensors en kameras word in Suid-Afrika ontwikkel (my broer +Peet Swart het 'n groot aandeel hieraan).  

Na die toer is ons na die groot MacDonalds in die gebou om net weer energie op te bou.   

 Chris se groot pizza is toe verspot klein. 


So lyk 'n baie gelukkige Pieter.